You are here:


Nuwe Nissan, op patrollie

13.10.2014

Sestig jaar gelede het die eerste Patrol die lig gesien. Heelwat later het hy in SA geland en sedertdien 'n reputasie gebou as 'n onbreekbare werkesel.

Die jongste weergawe is onlangs hier bekend gestel en eerste indrukke is dat die nuwe Patrol, sonder te veel moderne fieterjasies, steeds daardie reputasie gestand doen. Byna argaïes in ontwerp en met die sofistikering van 'n bekostigbare plaasimplement, is die Patrol steeds 'n bykans onbreekbare werker.

Die nuwe Patrol is slegs beskikbaar met 'n dieselenjin. Die normaal geaspireerde 90 kW en 282Nm 4,2 liter diesel het plek gemaak vir 'n moderne 2953cc turbo-aangejaagde diesel-enjin met brandstofinspuiting wat nou 110 kW en 371 Nm se piekkrag lewer.

Met die hulp van hedendaagse tegnologie is die nuwe enjin veel suiniger met die sousies terwyl meeste van die krag by lae toere beskikbaar is.

Die nuwe Patrol is, anders as sy voorgangers, gemaklik in die verkeer en stadsparkering. Druk jy egter die neus in die grootpad met vyf-de rat gehaak, draf die groot Nissan gemaklik oor die spoedgrens.

Nissan sê die nuwe Patrol gebruik slegs 10,9 liter diesel in 'n gemengde siklus, maar dan moet jy ligvoet met die versneller dans en daar moenie die maksimum vrag van 1 050 kg agter op die bak gelaai wees nie!

Wat gerusstellend is vir die manne wat met alle mag moet veldry, is dat die nuwe enjin gemaklik met skoon en vuil diesel loop en dat 'n tweede tenk as standaard saamkom.

Hierdie tenk word apart gat hervul en daar is ook 'n skakelaar en eie tweede meter op die instrumentpaneel. Die gekombineerde kapasiteit van beide tenke is 175 liter.

Verdere standaardtoerusting sluit in: lugversorging, ABS remme, twee lugsakke voor, kragstuur en elektriese vensters.
Die stuurwiel kan ook verstel maar daar is geen radio of CD-speler nie. Die kajuit is spartaans, maar funksioneel soos dit 'n werkesel betaam.

Die materiaal waarmee die groot sitplekke beklee is, moes verkieslik leer of kunsleer gewees het, maar dit sit gemaklik.
Die Patrol is nog van die ou-skool 4x4's wat deur die agterwiele dryf met 'n aparte ratkierie waarmee die voorwiele en donkierat ingeskakel word. Dan moet jy uitklim en die nawe op die voorwiele met die hand "sluit".

'n Agterste ewenaarslot is nuut en word binne die kajuit geaktiveer met 'n draaiknop.

Met kronkelvere voor en bladvere agter sal die Patrol nie eintlik 'n prys vir rygerief wen nie - maar dit spring darem nie te veel rond op tipie-se plaaspaaie nie.

Die groot 265 rubber op 16" wiele absorbeer die ergste slaggate en selfs met 'n vrag, draf die Patrol doeksag oor sinkplaatpaaie. Met die agterste spoor wat effe wyer as die voorwiele loop, is die Patrol ook gemaklik in los sand.


Die Nissan Patrol is alles wat jy soek in 'n regte 4x4 werkesel as plaasbakkie. Die kajuit is ruim genoeg sodat jy met die hoed op jou kop kan ry.

Teen R476 900 is dit 'n welkome toevoeging tot die bakkiemark in SA.

Article written by Dirk Gallowitz
13.10.2014
Comments
You have an opportunity to be the first by writing a comment about this article. Ask a question or share your opinion!
 
Notify me via email when someone comments or replies
- Enter security code