You are here:


Stille water... Splash glad nie sedig

01.10.2014

Suzuki Auto Suid-Afrika het sy plaaslike modelreeks met die Suzuki Splash-luikrug aangevul.

Die maatskappy bied reeds 'n verskeidenheid modelle wat passasiersmotors, meerdoel- en sportnutsvoertuie insluit. Verbruikers se aanvraag na die motors het in die afgelope maande gegroei soos die maatskappy meer modelle bekend gestel het. Die nuweling behoort die markaanvraag verder te versterk.

Splash is vars, jeugdig en veelsydig en sal waarskynlik by 'n verskeidenheid kopers byval vind. Die motor is kompak met 'n hoë daklyn, relatiewe lang asafstand en kort bakoorhange wat bydra tot 'n ruim en prakties binnekant.

Die krag word deur die bekende viersilinderenjin van 1,2 liter aangedryf soos in die intreevlak Swift-luikrug. Die motor is beskikbaar met 'n vyfgang-handratkas as standaard, of 'n outomatiese viergangratkas as opsie.

Die lys van standaardtoerusting is indrukwekkend - selfs die bekostigbare GA-weergawe bied dubbele lugsakke voor en ABS-sluitweerremme, terwyl die GL-model met nog meer kan spog.

"Die nuwe Suzuki Splash pas netjies in die gaping tussen ons gewilde Alto-intreevlakmotortjie en die uiters suksesvolle, subkompakte Swift-luikrugmotor," sê François van Eeden, Suzuki Auto SA se nasionale bemarkingsbestuurder.

STILERING

Soos ander modelle van Suzuki, is die Splash 'n oulike en parmantige kompakte motor. Om 'n mooi luikrug te ontwerp is nie altyd maklik nie, maar die funksionele bakontwerp is nogtans nie een wat die kinders hul voor hoef te skaam nie.

Die nuwe Splash is 3 775 mm lank, 1 680 mm breed en 1 620 mm hoog. Suzuki vertel dat die motor maklik hanteer en seepglad parkeer. Die lang asafstand van 2 360 en wye wielsporing voor en agter beloof ook stabiliteit. Ons hoop om later self meer hiervan uit te vind wanneer ons 'n toetsrit doen.

Van voor lyk die groot kopligte mooi langs 'n slank sierrooster en groot, lae luginlate.
Die daklyn wat na agter vloei beklemtoon die lugdinamiese profiel van die motor en die wiele en middelste karakterlyn laat dit ook atleties en selfversekerd lyk.

Die vertikale luikrug agter is modieus en word reeds in ander modelle uit die Ooste gesien soos die Kia Soul, hoewel dit hier nie so sterk beklemtoon word nie, aangesien die vensteroppervlak kleiner lyk.

Alle Splash-modelle word met staalvellings van 14" voorsien met volgrootte, gestileerde wieldoppe.

BINNE

Die kajuit lyk gerieflik, stylvol en veelsydigheid met 'n gevoel van ruimte danksy die hoë dak. Suzuki sê daar is genoeg been- en kopruimte vir vyf volwassenes. Die sitplekke is taamlik hoog wat die uitsig na buite verbeter en ook vir groter deure moontlik maak vir makliker toegang tot die motor.

Die sitbank agter het sitplek vir drie volwassenes bied en word 60/40 verdeel. Die laairuim kan dus soos nodig vergroot word.

Die uitleg van instrumente is gebruikersvriendelik en ergonomies optimaal beplan, met een groot snelheidsmeter reg voor die bestuurder. Die ronde wyserinstrument het 'n duidelike wit gesig en sluit ook 'n digitale ritrekenaar in met inligting oor reikafstand, gemiddelde en onmiddellike brandstofverbruik. Die GL-modelle is met 'n afsonderlike toereteller toegerus.

'n Stewige driespeekstuurwiel is standaard en die GL-weergawe het stuurwielbeheer vir die klankstelsel.

Die Splash het 'n groot verskeidenheid bêreplekke, soos 'n kassie met 'n deksel aan die bopunt van die middelste instrumentpaneel, 'n paneelkissie met deksel wat ondertoe oopmaak en 'n groot bêrerak by die voorste passasier.

In GL-weergawes is daar ook 'n uitskuiflaai onder die voorste passasiersplek.

Die 60-40-verdeling van die agterste rugleuning sorg vir 'n verskeidenheid kombinasies van sitplek en bergruimte. Wanneer die sitplek heeltemal plat gevou word, skep dit 'n groot laairuim met 'n plat laaivloer en 'n algehele volume van 1 050 liter tot by dakhoogte.

Die laaidrumpel is gerieflik laag vir die laai van swaar voorwerpe.

VEILIGHEID EN SEKERHEID

Al drie Suzuki Splash se weergawes is met dubbele lugsakke voor toegerus, asook met botsingwerende stawe in die deure. Rukstopgordels word vir die voorste sitplekke, asook die twee buitenste sitposisies agter voorsien. Die middelsitplek agter het 'n skootgordel. Die voorste gordels het voorspanners en lasbeperkers.

Al die weergawes is met ABS-sluitwerking vir die voorste skyfremme en remtrommels agter toegerus. Daar is kinderslotte vir die agterdeure en sentrale sluiting is ook standaard, met sleutelvrye toegang vir die GL-model.

ENJIN

Die Splash-reeks in Suid-Afrika word deur 'n viersilinderenjin van 1,2 liter aangedryf. Die 1 197 cc-eenheid lewer maksimumkrag van 63 kW by 6 000 r/min, gekoppel aan 'n wringkragpiek van 113 Nm by 4 500 r/min.

Dié kragbron het hom reeds in die groter Swift-luikrug bewys met gewillige werkverrigting en ratverhoudings vir die beste kombinasie van ratsheid en ekonomie.

'n Vyfgang-handratkas is standaardtoerusting, maar 'n outomatiese viergangratkas kan opsioneel bestel word. Die Splash is in albei gevalle voorwielaangedrewe.

EKONOMIE

Die vyfgang-handratmodel se gepubliseerde versnelling is 12,3 sekondes van 0 to 100 km/h met 'n topsnelheid van 160 km/h. Die amptelike brandstofverbruik is 5,6 liter/100 km vir die gekombineerde siklus by ie handratmodel en 6,4 liter/100 km vir die outomatiese weergawe. Die CO²-uitlaatgasvlakke beloop 133 en 150 g/km onderskeidelik.

Die modelreeks bestaan uit drie weergawes wat almal deur dieselfde enjin van 1,2 liter aangedryf word. Daar is egter 'n keuse van twee ratkaste en twee spesifikasievlakke.

Die mees bekostigbare lid in die reeks is die Splash 1,2 GA, net met die vyfgang-handratkas beskikbaar.
Splash 1,2 GL-kopers kan tussen die vyfgang-handratkas of 'n outomatiese viergangratkas kies. Buite is die onderskeidende kenmerke die kleurgepaste deurhandvatsels, misligte voor en 'n sportiewe drukvlerk agter.

BESONDERHEDE

Al drie Suzuki Splash-modelle word deur 'n waarborg van drie jaar of 100 000 km gedek, terwyl 'n diensplan van twee jaar of 30 000 km ook ingesluit word. Die diensinterval is elke
15 000 km.

1.2i GA MT SP1 - R124 900; 1,2i GL MT SP2 - R134 900 en die 1,2i GL AT SP3 - R149 900. Die motor sal eersdaags in George beskikbaar wees.

Vir meer besonderhede, skakel Suzuki in George by 044 801 7411.

Article written by
01.10.2014
Comments
You have an opportunity to be the first by writing a comment about this article. Ask a question or share your opinion!
 
Notify me via email when someone comments or replies
- Enter security code