Die Carnival City 400, die laaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 19 en 20 November plaasvind, sal heelwat opwinding vir die deelnemers sowel as vir die toeskouers bied.

Die voorren wat die wegspringvolgorde vir die hoofren bepaal, sal op Vrydag, 19 November om 12h00 begin en sal uit drie rondtes van die 6 km-veldrenbaan by Carnival City naby Brakpan bestaan.

“Die veldrenbaan by die stadion is reeds vanjaar vir ‘n hele paar Koepel-byeenkomste gebruik en daar is ook heelwat veranderings aangebring, het die Voorsitter van Koepel, Willie Prinsloo, gesê. “Nuwe gedeeltes en skouspelagtige springheuwels is bygevoeg en indien laasjaar se hoogvliegaksie as ’n maatstaf kan dien, kan die deelnemers en die toeskouers ’n aksiebelaaide ren verwag.”

Die hoofren begin op Saterdag, 20 November om 08h00 by Carnival City en die spanne kan hulself vir ’n rondte om die stadionbaan voorberei voordat hulle ’n 135 km-sirkelroete wat tussen Brakpan en Heidelberg uitgelê is, drie keer moet voltooi.

“Die begin, einde en sentrale dienspunt sal by Carnival City wees en toeskouers het die geleentheid om die voertuie vier keer in die kompleks in aksie te sien,” het Prinsloo gesê. “Die hoofroete is baie dieselfde as laasjaar met ’n verskeidenheid van terreine en verskeie toeskouerpunte.”

“Ons ondervind ’n klein probleempie deurdat die R23 tussen Brakpan en Heidelberg as gevolg van konstruksie gesluit is en dit beteken dat toeskouers ’n effense ompad sal moet ry om by die verskillende toeskouerpunte uit te kom,” het Prinsloo bygevoeg.

Map 1
Map 2

Original article from Car