Cars in Action se uitgewer, Michele Lupini, het vandag in Johannesburg aangekondig dat dié publikasie die Motorfees wat op 17 en 18 Julie gesamentlik deur die Sports Car Club van Suid-Afrika (SCC) en die SA Marque Club Association (SAMCA) by AA Kyalami aangebied word, gaan borg.

“Die Cars in Action-Motorfees wat laas in die middel-1990’s by AA Kyalami aangebied is, was een van die belangrikste motor- en motorsportbyeenkomste van sy tyd en ons het nie daaraan getwyfel om dié byeenkoms, wat uit twee aksiebelaaide dae van renne, uitstallings en ander vermaak van die baan af sal bestaan, weer te laat herleef nie,” het die uitgewer van Cars in Action, Michele Lupini, gesê. “Die program van gebeure sal iets vir elkeen bied – hetsy vir motorsportliefhebbers of net vir bewonderaars van mooi motorvoertuie.”

SCC en SAMCA het Cars in Action se betrokkenheid verwelkom omrede dit ondersteuning aan die byeenkoms bied deur middel van media-ondersteuning deur die tydskrif, die webblad iAfrica.com en High Octane Motorsport op Supersport.

“Die Lupini-familie het ‘n lang en trotse geskiedenis van hul betrokkenheid by historiese en klassieke motors en motorsport en dit is daarom gepas dat hulle deur middel van Michele Lupini en Cars in Action by die byeenkoms betrokke geraak het,” het SCC se vise-voorsitter, John Reidy, gesê. “Die Cars in Action-Motorfees sal die Saterdag afskop met ‘n vol renprogram wat klassieke motorfietse, enkelsitplek-, toedak- en sportmotors sal insluit en daar sal nie ‘n vervelige oomblik wees nie aangesien meer as 200 inskrywings verwag word.”

Die SAMCA-uitstalling in die Paddock-klub en die kuipekompleks sal motorentoesiaste se monde laat water met ‘n hoogsgewaardeerde versameling van sommige van die voortreflikste voertuie in die land wat 38 vervaardigers van Alfa Romeo tot Volvo insluit.

“Die SAMCA-uitstalling sal ‘n onskatbare versameling van motorvoertuie onder een dak bymekaarbring wat deeur deur SAMCA-beamptes en uitgesoekte gaste onder ‘n vergrootglas bekyk sal word wanneer beoordeling vir die Concours d’Etat, die Concours d’Elegance en Tops Only-kompetisie begin,” het Craig Anderson van SAMCA gesê. “Een motor van elke Marque-klub sal kwalifiseer om Saterdag vir die Concours d’Etat wat vir ten volle gerestoureerde oorspronklike voertuie is, in te skryf terwyl die Tops Only-kompetisie vir voertuie vir daaglikse gebruik is en nie heeltemal aan die standaarde van die d’Etat voldoen nie. Meer as 60 inskrywings van 38 klubs word verwag.”

“Sondag sal inskrywings in die glansryke Concours d’Elegance, waar die eienaars in kostuums wat uit dieselfde era as hul voertuie dateer uitgedos sal wees, deur die beoordelaars geïnspekteer word.”

Die Cars in Action-Motorfees sal ook heelwat opwindende aktiwiteite van die baan af bied wat ‘n bestuursgeleentheid by BMW 4x4-Opleiding insluit asook die geleentheid om op BMW Gevorderde Bestuur se glipblad op te eindig terwyl belowende Formule 1-jaers hul bedrewenheid op die Kyalami Renstelbaan kan toets.

Original article from Car