Die verskillende Castrol-Toyota Hilux-veldrenspanne is daarop uit om weer die botoon te voer in hul onderskeie klasse in die afdeling vir produksievoertuie in die Nissan-Sugarbelt 400, die tweede ronde van die ABSA-veldrenkampioenskap wat op 23 en 24 April in die Eston-omgewing naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal beslis word.

Die Castrol-Toyota Hilux-spanne loop ná ‘n suksesvolle openingsronde tot die 2004-seisoen nou voor in die Klas D- en E-kampioenskappe en dit is veral die Klas D-jaers Mark Cronjé/Chris Birkin wat hul posisie sal wil verbeter deur hul klas tydens die Nissan-Sugarbelt 400 te wen en sodoende te bewys dat hulle waardige Klas D-mededingers is.

Cronjé en Birkin sal egter nie hul eerste Nissan-Sugarbelt 400 saam wil herleef nie – Cronjé het sy Klas E-Castrol-Toyota Hilux 2700i verlede jaar in die voorren laat omslaan en hulle het in die hoofren uiteindelik tweede in hul klas geëindig. Dié span het ‘n goeie begin tot die 2004-seisoen in die Nissan-Handelaars 400 beleef ten spyte van ‘n ketsende enjin, ‘n stukkende halfas en die feit dat hulle vir ‘n groot gedeelte van die ren die dik sand met net tweewielaandrywing moes aanpak.

Hulle het net agter hul spanmaats en nuwelinge in die Castrol-Toyota-span, Paolo Piazza-Musso en Rod Hering, klaargemaak.

Piazza-Musso het sy terugkeer tot veldrenne met ‘n klasoorwinning gevier ten spyte van hul Hilux 2700I wat weens modder wat die verkoeler verstop het, oorverhit het. Hulle het andersins ‘n probleemvrye ren beleef en hul eerste Klas D-oorwinning vir die seisoen ingepalm.

Die Nissan Sugarbelt 400 is Piazza-Musso se tweede nadat hy dié KwaZulu-Natalse ren ‘n paar jaar gelede in ‘n Klas T-voertuig voltooi het. Hy onthou egter hoe hulle in die voorren in ‘n rivierbed geëindig het nadat hy verkeerd afgedraai het en die voertuig moes terugstoot. Hiervan sal hy gewis ook nie ‘n herhaling wil sien nie.

Die veldrennuwling Gavin Cronjé, ‘n voormalige Rotax Max-renstel-wêreldkampioen, maak sy buiging in die Sugarbelt 400 wanneer hy saam met die ervare en veelvuldige navigatorkampioen, Robin Houghton, in die Klas E-Castrol-Toyota Hilux-bakkie sal deelneem. Dié voertuig was nie betyds vir die eerste ren gereed nie en Cronjé en Houghton moes toeskouer speel.

Vir Houghton sal dit veral ‘n groot aanpassing wees wanneer hy hom die eerste keer in sy veldrenloopbaan in ‘n Klas E-voertuig bevind. Hy het erken dat hy nou ook dié deel van die renveld sal moet leer ken.

Hoewel hy in sy motorsportloopbaan die pad vir verskeie tyd- en veldrenjaers beduie het, was hy die afgelope nege jaar in dieselfde voertuig as die veldren-veteraan Apie Reyneke, en saam het hulle verskeie kampioenskaptitiels verower – onder andere die Algehele Produksievoertuigkampioenskap wat hulle vir vyf jaag agtereenvolgens gewen het.

Houghton het ook erken dat die Nissan-Sugarbelt 400 een van die meer tegniese veldrenne op die kalender is, maar hoewel hulle nog nie saam gejaag het nie, het hy die volste vertoue in Cronjé jr se renvernuf.

Van hul grootste teenstanders is die private Hilux-span van Vryburg, Hugo de Bruyn agter die stuur van ‘n soorgelyke Castrol-Hilux 2700i, en sy pa, Jaap, in die navigatorsitplek. Die De Bruyns het uitstekend in die openingsren gevaar deur hul eerste klasoorwinning met ’n welverdiende vierde posisie algeheel te beklink. Hulle het nie veel probleme met hul bakkie ondervind nie en lyk ná ‘n rusperiode van ‘n jaar slaggereed vir die res van die Absa-Veldrenkampioenskap.

Die De Bruyn-span sal in die visier van die Castrol-Toyota Hilux KZ-TE 3,0-fabriekspan, Zane Pearce en Hennie Vosloo, wees. Dié span kon nie punte in die openingsren agter hul naam skryf nie weens meganiese probleme wat hulle laat besluit het om hulle eerder aan die ren te onttrek.

Intussen het Toyota Motorsport hard aan die verskillende spanne se voertuie gewerk en is heelwat van die kleiner probleme nou uitgestryk terwyl hulle ook die Cronjé/Houghton-Hilux heeltemal rengereed kon kry.

Heelwat ander private Toyota-spanne sal ook hul verskyning in die Nissan-Sugarbelt 400 maak waarvan Cliff Weichelt en sy seun, Louis, se nuwe N1 4x4/Bosal-Toyota Hilux met ’n Australiese V6-enjin ‘n vlieg in die Klas D-salf sal wees.

Original article from Car