Veldrenne in Suid-Afrika gaan binnekort die internasionale erkenning kry wat dit verdien.

’n Suid-Afrikaanse afvaardiging bestaande uit MSA se Voorsitter, Roger Pearce; die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel en Videosport Television se Besturende Direkteur, Arthur Abraham, het op 2 Mei ’n voorlegging aan die FIA Cross Country-Tydrenkommissie in Parys gemaak met die doel dat die FIA die Toyota-handelaars 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, waarneem.

“Die voorlegging het die knoop deurgehaak en die FIA Cross Country-Tydrenkommissie het nie gehuiwer om in te stem om die SAM-georganiseerde byeenkoms waar te neem nie,” het Roger Pearce gesê. “Die bedoeling is dat die FIA-Waarnemer die vlak van organisering; die uiteenlopendheid van die terrein; die standaard van akkommodasie asook die bemarking en televisiedekking van die byeenkoms in die Produksie- en Spesialevoertuigkategorieë vas te stel.”

“’n Gunstige verslag van die FIA-Waarnemer sal Suid-Afrika heel moontlik van ’n plek in die FIA-Wêreldbeker vir Cross Country-Tydrenne in 2006 verseker. Dit sal ’n paslike akkolade vir die MSA-Veldrenvoertuigkommissie wees asook vir Arthur Abraham, die promotor van die voorgestelde Wêreldkampioenskapbyeenkoms.”

Die 2005 Toyota-handelaars 400 sal moontlik na 800 km verleng word indien oorsese spanne soos VW, Mitsubishi, BMW, Nissan Dessoude en Jean-Louis Schlesser besluit om vir dié byeenkoms in te skryf.

Original article from Car