Nissan Motorsport se bestuurder, Glyn Hall, maak sy veldren-buiging in die Toyota 1 000-Woestynren op 11, 12 en 13 Junie wanneer hy in die Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody vir die beseerde Giniel de Villiers instaan.

Hall, die 1990-Suid-Afrikaanse Tydrenkampioen, het sy onverwagte terugkeer tot aktiewe motorsport-deelname vir die eerste keer in 12 jaar gekry vir die derde ronde van die Suid-Afrikaanse ABSA-veldrenkampioenskap ten koste van die veelvuldige Suid-Afrikaanse toermotorkampioen en 2001 se veldrenkampioen wat sy elmboog gebreek het toe hy van sy bergfiets afgeval het.

“Dit is net ’n enkele geleentheid en op sulke kort kennisgewing het dit groot sin gemaak dat ek agter die stuur van die ren-Hardbody sal inskuif met (die navigator) Francois (Jordaan) langs my. Ek het dié bakkie al in toetse op die proef gestel, en ek was nie soveel stadiger as ons gewone renjaers nie," het hy met ’n vonkel in die oog gesê

Dit sal ‘n unikieke ondervinding wees vir die man wat meer en deels verantwoordelik is vir die ontwerp en ontwikkeling van die ren-Nissan Hardbody, om die voertuig met agresie in die seisoen se langste veldren te jaag.

“Ek voel baie jammer vir Giniel, wat daarop uit was om die Woestynren te wen om sy oorwinning in die openingsronde van vanjaar se kampioenskap in die Nissan Handelaars 400-veldren aan te vul, maar ek sien nogal baie uit na my heel eerste veldren,” het Hall gesê. “Die adrenalien is steeds daar!

“Ek en Francois sal dinge maar vat soos dit kom en ons oogmerk sal wees om eerstens die ren te voltooi en as alles reg uitwerk, tweedens die ren te probeer wen. Ons is deel van ’n span en ons taak sal wees om te help dat die span die beste uitslag moontlik aanteken.”

De Villiers sal na verwagting weer fiks wees vir die volgende ronde van die Suid-Afrikaanse ABSA-veldrenkampioenskap, die Sun City 400, wat die naweek van 23 en 24 Julie beslis word.

Hall en sy destydse tydren-navigator Martin Botha het in 1990 vir effens van ’n opskudding in die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap gesorg toe hulle die kampioenskap algeheel in ’n Klas B- VW Golf GTi teen die oormag van vier fabrieksingeskrewe vierwielaangedrewe Klas A-motors gewen het. Die eindresultaat is eers in die heel laaste byeenkoms van die seisoen bepaal, toe Hall en Botha die fabrieksingeskrewe Nissan Sentra 4x4 van Hannes Grobler en Piet Swanepoel geklop het. Grobler, wat die 1986-kampioenskap in ’n Nissan Skyline gewen het, het die kampioenskap die volgende jaar in die Sentra gewen.

Hall het aan die einde van die 1992-tydrenseisoen uitgetree wat sy tydrendeelname betref en is in 1993 as bestuurder van Nissan Motorsport aangestel. Hall, wat internasionale erkenning as reningenieur en motorbouer geniet, het die span in sy vier jaar van algehele oorheersing van die destydse Suid-Afrikaanse Toermotorkampioenskap gelei toe De Villiers die jaerskampioenskap in 1997, 1998, 1999 en 2000 in ’n Primera gewen het. Nissan het die vervaardigerstitel in elk van dié vier seisoene gewen. Nissan het onder Hall se leierskap ook die laaste drie Suid-Afrikaanse veldrenkampioenskappe gewen – met De Villiers (2001), Duncan Vos (2002) en Grobler (2003) al drie in Nissan Hardbody-bakkies wat in Nissan se motorsport-werkswinkel gebou, ontwikkel en in stand gehou is.

Hall het sy Springbok-kleure vir motorsport in 1990 ontvang en was verlede jaar die ontvanger van die Sportmotorklub van Suid-Afrika (SCC) se gesogte Ken Len-gedenktrofee vir uitstaande bydrae tot Suid-Afrikaanse motorsport.

Original article from Car