Die Suid-Afrikaanse Veldrenkampioenskap vir produksievoertuie, wat deur Absa aangebied word, is in die pylvak vir die voorlaaste ronde van die 2003-reeks. Ten minste twee spanne se visier is daarop ingestel om hul posisie in die algehele produksievoertuig-kampioenskap in die sewende byeenkoms van die jaar in die Lydenburg-omgewing die naweek van 24 en 25 Oktober te probeer verbeter. Spanne van Toyota en Nissan sal sake in die Toyota Handelaars Mpumalanga 400 uitspook met die Nissan-span wat ’n effense punte-voordeel het.

Mark Cronjé en Chris Birkin het basies hul Klas E-kampioenskap in hul Castrol-Toyota Hilux 2700i reeds beklink, met die algehele kampioenskap ’n skrale 18 punte buite hul onmiddellike bereik. Die Nissan-jaers Hannes Grobler en Richard Leeke is met dié voorsprong aan die bopunt van die reeks in hul Klas T-Hardbody.

Cronjé-hulle se Toyotaspanmaats Kassie Coetzee en Ockie Fourie is derde algeheel en tweede in Klas E in hul Castrol-Toyota Hilux KZ-TE 3,0 turbo-diesel nadat hulle regdeur die seisoen met bestendige vertonings vorendag gekom het.

Die puntestelsel maak dit vir deelnemers moontlik om die punte van hul swakste vertoning van die seisoen te laat vaar, met die nulletjie vir ’n byeenkoms wat nie voltooi is nie, om logiese redes die eerste om te waai. As dít nou gedoen word, is Grobler/Leeke 18 punte voor Cronjé/Birkin, en met 35 punte vir die algehele oorwinning in die spel kan die Nissan-span langs die pad agterbly as hulle net een van die oorblywende twee renne nie voltooi nie.

In die geval van Cronjé en Birkin, wat nog elk van die seisoen ses ses renne tot dusver voltooi het, sal dit maklik wees om te kies watter punte hulle nie gaan laat tel nie – hul swakste vertoning was die uitslag van die Mafikeng 400 toe hulle in die voorren hopeloos verdwaal het wat tot ’n groot agterstand in die wegspringposisies gelei het. Hulle was uiteindelik sesde in Klas E, maar kon nie in die algehele uitslae punte aanteken nie.

“Ons het niks om te verloor nie, dus behoort dit nie vir ons teenstanders ’n verrassing te wees as ons alles gaan uithaal om die laaste twee byeenkomste te wen nie,” het Whammy Haddad, bestuurder van Toyota Motorsport, gesê met verwysing na die Castrol-Toyota Land Cruiser-jaers Apie Reyneke en Robin Houghton. “Dit sou werklik fantasties wees as ons die komende Lydenbeurgse byeenkoms kon wen aangesien dié ren deur die Toyota Handelaarsvereniging van dié omgewing geborg word.

“Apie en Robin het in die vorige byeenkoms, die Sun City 400, bewys hulle is op dieselfde pas as Grobler/Leeke, maar die afgebreekte tand van ’n stukkende trurat het die binnegoed van hul ratkas só beskadig dat hulle gedwing is om te onttrek. Dit was ’n groot teleurstelling aangesien hulle op daardie tydstip tweede agter die Nissan was,” het Haddad gesê.

Die toneel aan die bopunt van die algehele puntestand in die afdeling vir produksievoertuie sal dramaties verander as Reyneke/Houghton die voorjaers in die oorblywende twee byeenkomste – dié naweek se Toyota Handelaars-Mpumalanga 400 en die Carnival City Casino 400 op 14 en 15 November – kan klop.

Met Grobler/Leeke aan die bopunt van die punteleer met 175 punte – as die punte van hul enigste nie-oorwinning, die Tarka 400 waar hulle vierde was, buite rekening gelaat word – kan hul voordeel van 18 punte voor Cronjé/Birkin maklik deur ’n oorwinning deur Reyneke/Houghton uitgewis word. Dit sou die Nissan-span tot ’n tweede of derde posisie laat terugsak, veral as hulle ook die slagoffers word van die stormende Ford Ranger van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer.

Selfs met Woolridge die wenner en Reyneke tweede, sal ’n derde posisie Grobler nege punte kos terwyl hy heeltemal sal agter raak as hy glad nie die ren voltooi nie. En as Cronjé daarin kan slaag om sy blitsige pas te handhaaf, waarmee hy tot dusver vier klasoorwinnings aangeteken het met twee daarvan in die derde posisie algeheel, is die gort gaar.

“Die Sun City-byeenkoms, waarin ons weer ons klas met n derde posisie algeheel gewen het, was een van die strafste byeenkomste vir my vanjaar,” het die talentvolle jong renstel-wêreldkampioen wat maar eers vanjaar in veldrenne begin jaag het, gesê. “Toe ek by die eindpunt uit die motor klim, het ek gedink ek wil nooit weer in my lewe iets met ’n pap wiel te doen hê nie,” het Cronjé gesê nadat hy moes help om nie minder nie as drie wiele in die 400 km van die byeenkoms te ruil.

Die derde Castrol-Toyota-span, Coetzee en Fourie, het ’n baie bestendige seisoen agter die rug met ’n klasoorwinning aan die een kant en ’n onvoltooide ren aan die ander wat hul bestendige vertoning van drie tweede plekke in hul klas in die res van die byeenkomste balanseer. Dié bestendige vertoning het hulle in ’n onverbeterlike posisie geplaas om die laaste en oorblywende podiumposisie te beklink ongeag van wat met Grobler/Leeke en Cronjé/Birkin gebeur. Hulle is 21 punte voor hul naaste teenstanders in die algehele kampioenskap en lyk oorgehaal om met die bronsmedalje te eindig.

Toyota sal weer deur ’n magdom pri9vate jaers gesteun word om sy sukses as naasvoorloper in die vervaardigerskampioenskap te versterk, onder wie Piet Haasbroek/Freddie Scheepers in hul Klas D- Castrol Land Cruiser, en Cliff en Louis Weichelt in hul N1 4x4-Land Cruiser (Klas D).

Die puntestand (met die swakste vertoning se punte buite rekening gelaat):

Algeheel:

1. Grobler/Leeke (Nissan, Klas T-voorlopers) – 175

2. Cronjé/Birkin (Hilux, Klas E-voorlopers) – 157

3. Coetzee/Fourie (Hilux, 2de in Klas E) – 130.

Klas E:

1. Cronjé/Birkin (Hilux, 2de algeheel) – 96

2. Coetzee/Fourie (Hilux, 2de Klas E) – 81

3. Manfred Schröder/Jack Peckham (Ford; 11de algeheel) – 56

Original article from Car