Die Trots-Suid-Afrikaanse Nissan-veldrenspan het sy vierde agtereenvolgende oorwinning in die Nissan-Sugarbelt 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Saterdag in Eston naby Pietermaritzburg ten einde geloop het, behaal.

Die huidige Produksievoertuigkampioene, Hannes Grobler en Richard Leeke, het tweede in uiterse stowwerige omstandighede begin en het vinnig hul pad tot voor in die Klas T-veld wat hul spanmaats, Giniel de Villiers en Francois Jordaan en Duncan Vos en Hennie ter Stege asook die Ford-renspan van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer ingesluit het, oopgejaag.

Grobler en Leeke het 2 min 10 sek voor Woolridge en Skjöldhammer, wat op ‘n stadium voorgeloop het toe die ander Klas T-mededingers verkeerd gery het of ‘n pap band in die digte stof opgedoen het, klaargemaak. Die Ford-renspan het ‘n probleemvrye ren beleef en het 26 sek voor die Nissan-Handelaars 400-wenners, De Villiers en Jordaan wat ook sy 50ste verjaardag tydens die byeenkoms gevier het, geëindig.

De Villiers en Jordaan het tydens Vrydag se voorren voor gekwalifiseer en van die begin af voorgeloop, maar ongeveer 40 km in die ren het ‘n wielvelling gebreek toe hulle ‘n rots getref het en dit het hulle soveel tyd gekos dat hulle tot die vierde posisie algeheel teruggesak het. ‘n Pap band asook die feit dat hulle hul spanmaats, Vos en Ter Stege uit ‘n donga gehelp het terwyl De Villiers weer aan bewegingsiekte gely het, het hulle selfs meer tyd gekos en hulle moes met ‘n derde plek tevrede wees.

Vos het, soos De Villiers, ook aan bewegingsiekte gely en hy en Ter Stege het vierde, 14 min 7 sek agter De Villiers en Jordaan klaargemaak.

Alfie Cox van Pietermaritzburg en Ralph Pitchford het Klas D in die Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody oorheers. Hulle het vinniger as die res van die Klas D-veld tydens Vrydag se voorren gekwalifiseer en het tydens die hoofren van die begin tot die einde in dié klas voorgeloop.

Manfred Schröder en Jack Peckham was sesde algeheel en tweede in Klas D in die Ford Racing Ranger wat vir dié ren met ‘n outomatiese ratkas toegerus was, en het 8 min 47 sek agter die klaswennedne Nissan klaargemaak.

Hugo en Jaap de Bruyn het hul Klas E-dominasie voorgesit en hul effens beskadigde Castrol-Toyota Hilux 2,7i in die sewende posisie algeheel en eerste in Klas E huistoe gebring. Die Vryburg-gebaseerde pa- en seun-span het dié klas ook tydens die Nissan-Handelaars 400 gewen en is nou ernstige aanspraakmakers op die algehele en klaskampioenskappe.

Die man- en vrou-span, Neels en Zelda van der Walt het agtste algeheel en tweede in Klas E in hul Nissan Hardbody TD klaargemaak en is oor die lyn gevolg deur die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin in die Klas D-Castrol-Toyota Hilux 2,7i.

Henri Zermatten en Bodo Schwegler het die top tien afgerond in die Mastercraft/Playstation-Mitsubishi en was tevrede met hul derde plek in Klas D.

Ford se ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa, albei van Pietermaritzburg, het vir die tweede agtereenvolgende byeenkoms derde in Klas E klaargemaak en en vroeg reeds almal se aandag daarop gevestig dat hulle ernstige aanspraakmakers is op ‘n oorwinning in dié uiters mededingende klas.

Net 15 van die 36 Produksievoertuigspanne wat die ren begin het, kon die Nissan-Sugarbelt 400, wat vanjaar gereken word as een van die taaiste in die geskiedenis van dié byeenkoms, voltooi.

Die Spesiale Voertuigkategorie het ‘n groot inskrwyingsgetal getrek en 66 spanne het Saterdagoggend vir die aanvang van die ren gereed gemaak.

Daar is verwag dat die mededinging tussen die 21 Klas A-spanne se plaaslike BAT’s en die ingevoerde Amerikaanse voertuie in ‘n ernstige stryd sou ontwikkel.

Brandon Harcus en Achim Bergman, Clint Gibson en Mike Brown, Philip Vosloo en Evan Hutchison, Mark Corbett en Gavin Kelsey, Bevan Bertholdt en James Kennerley en Nic Harper en Andrew Chalupsky het die BAT-stryd aangevoer.

Die formidabele ingevoerde Amerikaanse voertuie is deur Atang Makgekgenene en Mike Stangl (Total-Jimco), John Weir-Smith en Geoff Minnitt (Kopanong Hotel Superteam-Jimco), Shameer Variawa en Nadeem Dudhia (Oven Fresh Biscuits-Porter), Terence Marsh en Michael Whitehouse (Nashua Mobile-Jimco) en Frikkie Botha en Blackie Swart (Procoat-Jimco) verteenwoordig.

Variawa en Dudhia het van die aanvang van die ren voorgeloop, maar hul ren het vroeg tot ‘n einde gekom toe hulle deur Harcus en Bergmann in die Adrenalise Corporate Entertainment-BAT van agter gestamp is en die kragstuurpomp wat ater die Porter se ratkas gemonteer is, die gees gegee het. Variawa se ren het geëindig, maar Harcus kon steeds voortjaag.

Corbett en Kelsey in die Century Property Developments-BAT het voordeel uit dié onderonsie getrek en die voortou geneem met Gibson en Brown indie Praesidium Financial Services-BAT kort op hul hakke.

Bertholdt en Kennerley was ook in die stryd totdat die ratkas van die BAT probleme gegee het en hulle besluit het om eerder die handdoek in te gooi voordat die ratkas meer beskadig word.

Die wenners van die Nissan-Handelaars 400, Makgekgenene en Stangl, het 83ste weggetrek nadat hulle nie die vooren kon voltooi nie en het, soos Weir-Smith en Minnitt wat heel laaste begin het nadat die brandstofpompe op die Jimco net voor die aanvang van die ren die gees gegee het, heelwat posisies opgemaak. Vinnige herstelwerk is gedoen en hulle het begin, maar die probleem het weer sy kop uitgesteek en hulle was verplig om vroeg reeds op te gee.

Corbett en Gibson het gedurende die ren die voortou geruil met Harper en Marsh wat in ‘n stryd vir die derde plek gewikkel was.

Makgekgenene en Stangl het hul pad tot voor in die veld oorgeveg totdat tragedie toegeslaan het. Die Total-Jimco het teen ‘n berghang gerol en tussen bome tot stilstand gekom. Stangl het probeer om uit die voertuig te klim wat die balans versteun het en dit het verder teen die berghang gerol en hom onder die voertuig vasgepen. Stangl is op die toneel oorlede.

Mark Corbett en Gavin Kelsey het die Nissan-Sugarbelt 400 in ‘n tyd van 7 h 17 min en 33 sek gewen en is 20 min 27 sek later deur Clint Gibson en Mike Brown gevolg.

Gary Campbell (Mighty Mag) het derde algeheel en eerste in Klas B klaargemaak met Nic Harper en Andrew Chalupsky vierde algeheel wat dit ‘n 1-2-3 vir BAT in Klas A gemaak het met drie voertuie wat deur Audi V8-enjins aangedryf word.

Die Piet Retief-gebaseerde Johan van Jaarsveld en Marlene Lindeque, het vir die grootste gedeelte van die ren voorgeloop in Klas B, maar het uiteindelik vyfde algeheel en tweede in dié klas in die Ysco geëindig. Marsh en Whitehouse het meer as ‘n uur verloor as gevolg van ‘n paar meganiese probleme terwyl hulle ook ander deelnemers gehelp het wat in een van die vele rivierkruisings vasgeval het en was tevrede om sesde algeheel en vierde in Klas A klaar te maak nadat hulle bykans nege ure in die kajuit deurgebring het.

Marcus Taylor en Marc de Chalain het op ‘n stadium voorgeloop in Klas B, maar moes met die derde posisie in dié klas en sewende algheel tevrede wees. Will Battershill en Reg Sutton het goed gevaar deur agtste algeheel en vierde in Klas B in die nuwe JRE te eindig.

Die Nissan-Handelaars 400 se Klas B-wenners, Adri Roets en Deon de Kock (Global DAD-WPP) het hul kampioenskapshoop lewendig gehou deur negende algheel en vyfde in Klas B klaar te maak.

Harcus en Bergmann was die laaste span tuis, maar is as gevolg van ‘n tegniese oortreding van die resultate geskrap.

Die Nissan-Sugarbelt 400 sal eerder deur die 56 Spesiale Voertuig-spanne wat nie dié strawwe ren kon voltooi nie, vergeet wil word.

Die volgende ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, die Toyota 1000-Woestynren, vind van 13 tot 15 Junie in Botswana plaas wat aan spanne die geleentheid gee om hul voertuie en hul gewonde ego’s te herstel.

Original article from Car