Nissan, die huidige Suid-Afrikaanse veldrenkampioene, is oorgehaal vir hul vierde agtereenvolgende kampioenskapstitel in vanjaar se veldrenreeks, wat op 19 en 20 Maart in die Darling-omgewing in Wes-Kaapland afskop met die Nissan-Handelaar 400-veldren.

Nissan-Motorsport, met sy hoofkwartier in Midrand, Gauteng, het verlede jaar die Vervaardigerskampioenskapstitel sowel as die algehele Bestuurders- en Medebestuurderstitel van die Produksievoertuigafdeling gebuit danksy sewe oortuigende oorwinnings in die agt byeenkomste. Vir vanjaar het die span drie Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody-dubbelkajuitbakkies in die top-klas van die Produksievoertuigafdeling, Klas T vir gewysigde "super produksie voertuie", ingeskryf.

Die kampioen-fabriekspan van verlede jaar bly, met die uitsondering van 'n nuwe medebestuurder, dieselfde. Die huidige nasionale kampioene, Hannes Grobler en Richard Leeke, gaan probeer om hul verstommende oorheersing van verlede jaar se veldrenseisoen -- hulle het nie minder nie as ses van die agt byeenkomste gewen -- in 2004 voort te sit.

Die gewese kampioene Giniel de Villiers en Francois Jordaan, wat in Januarie met groot welslae aan die moordende Dakar-tydren deelgeneem het -- hulle het 'n uitstekende sewende plek behaal in die marathon-veldren van 18 dae oor 11 000 km -- gaan alles uithaal om hul prestasie van 2001 te herhaal. In daardie jaar het hulle die Bestuurders- en Medebestuurderstitel verower.

Duncan Vos, Bestuurderskampioen in 2002, kry vanjaar 'n nuwe medebestuurder, wie se naam nog aangekondig moet word. Sy gereelde spanmaat en 2002 se Medebestuurderskampioen, Mike Griffith, het vanweë sakebelange besluit om nie meer heeltyds aan veldrenne deel te neem nie. Hy bly nogtans betrokke by die span en kan moontlik aan een of twee veldrenne deelneem.

'n Sterk span private Nissan-jaers sal die amptelike Nissan-span bystaan in Nissan Hardbody-bakkies in Klas D (vir feitlik standaard-sessilinder-produksievoertuie) en in Klas E (vir feitlik standaard-viersilinder-produksievoertuie).

Die GBS-span spring weg met drie van die Hardbody-bakkies waarin hulle verlede jaar soveel welslae in Klas D behaal het. Die span hoop om vir die tweede ronde van die kampioenskap, die Nissan Sugarbelt 400 op 23 en 24 April in Natal, 'n vierde Nissan Hardbody-bakkie gereed te hê.

Die verdedigende Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo, sal weer in die klas bygestaan word deur Coetzee Labuschagne en Johan Gerber (derde in verlede jaar se kampioenskap) en JP Augustin en sy vrou, Linda.

Die veelvuldige nasionale veldren- en uithouren-motorfietskampioen Alfie Cox en sy medebestuurder, Hennie ter Steege, is terug in hul Klas D-Hardbody. Die voertuig word geborg deur Arnold Chatz Cars van Craighall in Johannesburg.

Cox, van KwaZulu-Natal, het homself onderskei op vanjaar se Dakar-tydren met 'n skitterende vierde plek op sy KTM. Hy sal twee van vanjaar se agt plaaslike veldrenne mis omdat hy vir KTM sal meeding in verskeie rondes van die FIA se Veldren-Wêreldbekerkampioenskap as deel van KTM se voorbereiding vir aanstaande jaar se Dakar-tydren.

Die Du Plessis-broers en hul BB Auto-span is terug in Klas D met 'n sessilinder-Hardbody vir Arnold du Plessis en George Baker, en in Klas E met 'n viersilinder-Hardbody vir Jurie en André du Plessis.

Ook in Klas E in 'n Hardbody, soos verlede jaar, is Neels van der Walt en sy vrou, Zelda.

Nissan verwag dat die mededinging vanjaar aansienlik strawwer gaan wees weens die nuwe regulasies wat daarop gemik is om die algehele snelheid van die produksievoertuie te verminder. Induksiebeperkers sal aan petrol- sowel as dieselaangedrewe voertuie aangebring word. Dit word gedoen met die oog op veiligheid sowel as koste te verlaag, en om die enjinverrigting van die voertuie op een vlak te bring en die speelveld gelyk te maak.

"Ons het aan ons 3,5 liter-V6-enjins gewerk om die nuwe regulasies ten beste te benut," sê Glyn Hall, bestuurder van Nissan-Motorsport. "Tot dusver was ons in die gelukkige posisie dat ons die kragtigste enjins gehad het, maar vanjaar het ons minder krag. Gevolglik sal dit vir ons moeiliker wees om te wen.

"Nogtans het ons 'n uitstekende, sterk enjin -- dit is lid van dieselfde enjinfamilie wat gebruik word in die internasionele Formule Nissan-reeks in Europa en in die Nissan 350Z wat aan die Japanse GT-kampioenskap deelneem -- gevolglik is ons vol vertroue dat ons ons wenrekord in Suid-Afrikaanse veldrenne kan voortsit."

Vir die 2004-seisoen het Hall se tegniese span die Klas T-Hardbody-bakkies heeltemal uitmekaargehaal en oorgebou. "Ons het hier en daar 'n paar veranderinge aangebring, maar daar was nie veel wat ons kon doen om hulle beter te maak nie," sê Hall. "Hulle het verlede jaar uitstekend gevaar deur sewe van die agt veldrenne algeheel te wen en by vyf geleenthede eerste en tweede te eindig."

Original article from Car