Die Toyota-Handelaars 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, sal weer eens op 22 en 23 Oktober in die Lydenburg-omgewing aangebied word en sal ’n nuwe roete vir die hoofren insluit.

Dokumentasie en die voorrenvoertuigondersoeke sal weer Vrydag vanaf 08h30 tot 12h00 by Lydenburg Toyota in Voortrekkerstraat in Lydenburg plaasvind waarna die deelnemers die 36 km-voorren by die Badfontein Boereverenigingsaal in die Kwena Basin-omgewing moet voltooi. Die voorren bepaal die wegspringvolgorde vir Saterdag se hoofren.

Die roete vir die hoofren sal by die Lydenburg Rugbyklub in Kantoorstraat begin en eindig en dit sal ook as die sentrale dienspunt dien wat ook heeltemal verskillend van die vorige jaar is. Daar sal van die deelnemers verwag word om ’n 199 km-sirkelroete twee keer te voltooi wat heelwat stadiger as laasjaar se roete sal wees en verskeie rivierkruisings asook klipperige en bergagtige gedeeltes sal insluit.

Daar sal twee gedeeltes op elke rondte wees wat nié renroetes is nie – een van 8 km en nóg een van 19 km – om ontoeganklike terrein uit te sluit en gedeeltes van die roete by mekaar te laat aansluit.

“Dit is die tweede keer dat die SA Motorsportklub (SAM) die Toyota-Handelaars 400 organiseer en ek is vol vertroue dat, ná laasjaar se vuurdoop, vanjaar se byeenkoms een van die beste in die Absa-Veldrenkampioenskap gaan wees,” het die Assistent-Hoofrenbeampte, Willie du Plessis, gesê. “Johan ‘Hasie’ Haasbroek het ’n uitstekende roete uitgelê wat die deelnemers en hul voertuie sal beproef en verskeie toeskouergeleenthede sal bied. ”

“Die samewerking wat ons van Lydenburg Toyota se bestuur, die plaaslike owerhede en die boeregemeenskap ontvang, is ongelooflik.”

Original article from Car