Roger Pearce vertrek op 9 Junie 2004 op ‘n historiese tog vanaf AA Kyalami deur Africa en Europa na Silverstone in die Verenigde Koningkryk in ‘n 1973 MGB GT en hy gaan niks aan die genade oorlaat op dié toer waar ‘n moontlike gevaar om elke draai wag nie.

Om daagliks met sy familie in Suid-Afrika asook met noodreddingsorganisasies regdeur Afrika in kontak te bly, is uiters belangrik vir Pearce se welstand asook vir die sukses van die ekspedisie waartydens Pearce asook Nico en Trevor Kleyn in ‘n MG TD deur Zambië, Tanzanië, Kenia, Etihopië, Sudan, Egipte, Jordanië, Sirië, Turkeie, Bulgarye, Hongarye, die Tsjeggiese Republiek en Duitsland na Silverstone sal reis.

“Die tog sal my deur van die vyandelikste gedeeltes in Afrika neem en kommunikasie deur middel van ‘n satellietfoon is die enigste manier waarmee ek met die buitewêreld in aanraking kan bly,” het Roger Pearce gesê. “Ek is verheug dat Pedro Camacho van Blue Sky Satellite Communications as die kommunikasieborg vir die ekspedisie aan boord gekom het en dit sal aan almal gemoedsrus verskaf.”

“Die Blue Sky-satellietfoon wat ek sal gebruik is kompak en voorsien my van onmiddellike kommunikasie enige tyd tydens die ekspedisie,” het Pearce bygevoeg.

Behalwe dat Pearce met sy familie in verbinding sal kan bly, sal hy die stelsel daagliks gebruik om vorderingsverslae aan die mediakonsultate in Johannesburg deur te bel asook om radio- en televisie-onderhoude te doen en jpeg-foto’s per e-pos deur te stuur.

“Ons is opgewonde om by dié historiese toer betrokke te wees en is vol vertroue dat dié onverskrokke reisiger in kontak sal kan bly deur van die nuutste satellietkommunikasiestelsel in die wêreld gebruik te maak,” het Pedro Camacho van Blue Sky Satellite Communications gesê. “Dit is ‘n bykomende bonus dat Roger die hele Suid-Afrika op hoogte van die ekspedisie sal kan hou en ek is seker dat baie Suid-Afrikaners sy epiese tog op die radio, in die gedrukte media, op televisie en op die webwerwe sal volg.”

Original article from Car