Vat agt van die nuwe Rotax RM1-renstelle, voeg agt huidige en voormalige kampioene en jy het al die regte bestanddele vir ‘n groot gemors wanneer die Rotax RM1-kampioenskapsren by die Cars in Action-motorfees by die AA Kyalami-renbaan afskop op 17 en 18 Julie.

Die Rotax RM1-invoerder, Ed Murray, het agt nuwe renstelle beskikbaar gestel, wat almal met die 24kW FR 125 Max-enjin, kettinglose tweespoed regstreekse aandrywing, vierwielremme, tikratwisselaar, tru-rat en ‘n aërodinamiese krapbestande bakwerk toegerus is.

“Die Rotax RM1 is besig om wêreldwyd ‘n rewolusie in renstelrenne in te lui deurdat die renstelle vir die eerste keer verskaf word as ‘n pakket wat uit die boks gereed is mee te jaag,” het Ed Murray gesê. “Dit is tot ‘n groot mate ‘n kwessie van klim in die renstel, skakel die enjin aan, ry uit die kuipelaan tot op die baan, pomp die versneller, trap die remme, jaag tot in die eerste draai en besef dat die RM1 ‘n beperking het… jou beperking.”

“Ek het nie ‘n oomblik gehuiwer om die agt Rotax RM1’s vir die kampioenskapsren beskikbaar te stel nie, omdat dit raar is vir agt kampioene – huidige en voormaliges – om kop aan kop in identiese renstelle te jaag,” het Murray bygevoeg.

Die bestuurders vir die Rotax RM1-kampioenskapsren sluit in Derrick Irving, Hennie Groenewald, Leeroy Poulter, Claudio Piazza-Musso, Wesley Orr, Gary Formato, Morne Jurgens en Jimmy Auby. word.

Die renstelbyeenkoms begin Saterdag, 17 Julie om 08h10 tot 10h55 met oefenrondtes, gevolg deur ‘n kwalifiserende ren van 11h25 tot 11h55 en die eerste uitdunronde vanaf 14h25. Sondag sal daar opwarmingsrondtes wees om 10h00 met die tweede uitdunronde wat om 12h30 afskop en die eindronde om 16h00.

Lede van die publiek sal ‘n kans kry om ‘n Briggs en Stratton 200 aangedrewe PCR-renstel van 12h00 tot 14h00 en 15h00 tot 17h00 te bestuur op Saterdag en weer op Sondag van 08h00 tot 10h00, 10h30 tot 12h00 en 13h00 tot 16h00 teen ‘n koste van R100,00 vir ses rondtes.

Die Cars in Action-motorfees is ‘n naweek vir die hele gesin met talle ander attraksies soos die Bosal Concours d’Etat en Tops Only-kompetisies, historiesemotorrenne vir historiese enkelsitplekmotors, Volkspares Fine Cars, Lotus-uitdaging, DK Porsche-uitdaging en Volkspares HRCR-toermotors op Saterdag. Sondag kom die Vodacom 200 sportmotorren, die Bosal Concours d’Elegance, die CRRASA Classic-stiptheidsren en die SAHRA-sneltrajektydren aan die beurt, ry-en-bestuur geleenthede op die BMW-glypan en ‘n 4x4-baan, ‘n Playstation-arkade, produkuitstallings en ‘n speelplek vir die kinders.

‘n Toegangskaartjie vir een dag kos R40 per persoon, terwyl ‘n kaartjie vir albei dae R70 per persoon sal kos.

Original article from Car