‘n Sterk groep deelnemers van KwaZulu-Natal sal op 14 en 15 Novmeber aan die Carnival City Casino 400, die laaste ronde van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word, deelneem.

In die Produksievoertuigkategorie hoop die wenners van die 2001-Carnival City Casino 400, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, om hul verwoestende ongeluk tydens die 2002-byeenkoms te vergeet en om die kampioenskapfinaal in die Ford Racing Ranger te wen.

Dié Ford-paar het laas ‘n oorwinning tydens die Carnival City Casino 400 in 2001 behaal en moes toekyk hoe die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-spanne 14 agtereenvolgende oorwinnings in 15 renne behaal. Met hul vertoning tydens die onlangse Toyota-Handelaars 400 in ag genome – hulle was verskeie kere gedurende die ren die voorlopers voordat ewenaarprobleme hulle verplig het om die handdoek in te gooi – beskik hulle beslis oor die vermoë om die alles-oorheersende Nissans te klop.

Die voormalige Klas E-kampioene, Manfred Schröder en Jack Peckham, het ‘n frustrerende seisoen in die Ford Racing Ranger agter die rug en kon hulle slegs ‘n enkele klasoorwinning behaal. Mark Cronje en Chris Birkin het reeds die Klas E-kampioenskap in hul Castrol-Toyota Hilux 2700i ingepalm en die suikerrietboere sal hul derde plek in dié kampioenskap moet beskerm.

Die veldrennuwelings, Zane Pearce en Hennie Vosloo (Hi Q-Ford Ranger) het potensiaal in Klas E beloof, maar kon drie agtereenvolgende renne nie voltooi nie en hulle is nie meer ‘n faktor in die kampioenskap nie.

Die KZN-spanne is goed in die Spesiale Voertuigkategorie verteenwoordig met Gerald Mundell en Billy Bond in die Prolong-BAT wat in ‘n naelbytstryd vir die algehele kampioenskap met Giel Nel in die Klas B-Luk Africa-Truggy gewikkel is. Mundell en Bond het die Nissan-Sugarbelt 400 algeheel gewen en Mundell is 27 punte agter Nel in die algehele Jaerskampioenskap terwyl Bond voor in die Navigatorskampioenskap is. Mundell en Bond het ‘n skrale voorsprong van drie punte in die Klas A-kampioenskap.

Clint Gibson en Mike Brown (Praesidium Financial Services-BAT) het drie agtereenvolgende Klas B-oorwinnings bymekaar gemaak voordat hulle tydens die Toyota-Handelaars 400 na Klas A oorgeskuif het. Hulle was so te sê van hul eerste oorwinning verseker toe hulle meters voor die einde verkeerd gery het en Mark Corbett en Juan Möhr toegelaat het om hulle met 49 sekondes te wen. Gibson en Brown het ‘n buitekans om die algehele en Klas A-jaers- en navigatorskampioenskappe te wen en kan nie bekostig om enige foute tydens die Carnival City Casino 400 te maak nie.

Die Carnival City Casino 400 sal ‘n toeskouer-vriendelike byeenkoms wees met ‘n gewilde bring en braai-area waar ‘n feestelike atmosfeer vir entoesiaste en vriende geskep is om bymekaar te kom.

Carnival City Casino-toeskouers sal ook toegang tot kitskosstalletjies, ‘n biertent en toiletfasiliteite hê. Die gedeelte van die roete wat deur die Carnival City-kompleks gaan, is ook oorgedoen en sluit nou bykomende hoëspoed-walle in wat meer aksie behoort op te lewer.

Dit sal aan geesdriftiges ‘n skouspelagtige uitsig van die aksie bied. Toeskouers sal die voertuie drie keer van een punt binne die kompleks kan sien en sal ander toeskouerpunte binne kilometers vanaf Carnival City Casino kan bereik.

Die naweek se aksie sal op Vrydag, 14 November om 12:00 met ‘n voorren begin. Dit behoort heelwat aksie op te lewer en ‘n voorsmakie te wees vir wat lyk na ‘n dramatiese naweek in die wêreld van veldrenne. Die hoofren begin op Saterdag, 15 November om 08:00.

Original article from Car