Die Sun City 400, die vierde ronde van die Absa-veldrenkampioenskap wat op 23 en 24 Julie in die Pilanesberg-omgewings sal plaasvind, beloof om selfs meer uitdagend te wees as in vorige jare.

Die organiseerders van die ren, Veldren Suid-Afrika (ORSA), het die roete-ondersoek vir hierdie gewilde ren die naweek afgehandel en het belangrike veranderings aan die roete, wat alreeds kompak is, aangebring. Dit is daarop gemik om aan die deelnemers ‘n ware toets van hul uithouvermoë te wees en om dit vir toeskouers selfs makliker te maak om die aksie te volg.

“Die hele roete is uitgelê in ‘n omgewing van 400 vierkante kilometer wat afgekamp word deur vier grootpaaie, wat toegang tot verskeie opwindende toeskouerpunte maklik te maak,” het Piet van Rensburg van ORSA gesê. “Dit sal nie ‘n Sondagmiddag-uitstappie vir die deelnemers wees nie, hulle kan verwag om regdeur die ren hard te werk.”

“Nuwe dele van die Sun City 400 se roete sluit rotsagtige terrein, ruig bosveld en ‘n rivierkruising hier en daar in, wat nog selfs meer uitdagend sal wees as ons bietjie reën voor die ren kan kry.”

Die renhoofkwartier, die kuipe, die begin en die einde sal by die Sun City Sports and Social Club wees, waar daar ‘n voldiens restaurant en kroeg is, kitskosrestaurante en ablusiegeriewe.

Die 40 kilometer lange voorren om die wegspringposisies vir die hoofren te bepaal, begin om 13H00 op Vrydag, 23 Julie. Die hoofren, wat uit drie rondtes van 140 kilometer sirkelroetes sal bestaan, begin om 08h00 op Saterdag, 24 Julie.

Original article from Car