SA VELDRENKAMPIOENSKAP… AANGEBIED DEUR ABSA

Die Toyota-Handelaars 400, die voorlaaste ronde van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word, bied heelwat aan toeskouers van Mpumalanga en die aangrensende Gauteng- en Limpopo Provinsies.

Die byeenkoms vind op 24 en 25 Oktober plaas en sal in die Lydenburg-omgewing gebaseer wees met groot gedeeltes van die roete in die Kwena-kom wat op die R36 tussen Lydenburg en die bekende Bambi Lodge op die R539 (ook bekend as die Schoemanskloofpad) geleë is en sal maklik deur toeskouers van die omliggende dorpe en provinsies bereik kan word.

Lydenburg is twee en ’n half ure se ry van Johannesburg of Pretoria af, minder as 90 minute van Witbank en Middelburg en slegs ‘n uur van Nelspruit af.

Die byeenkomsorganiseerders, SA Motorsportklub (SAM) reël reeds vir die afgelope 12 jaar die Sasol-Tydren en het baie ondervinding oor hoe om toeskouervriendelike roetes uit te lê.

Daar sal agt toeskouerpunte tydens Vrydag se 36 km-voorren wees,” het die roetebeampte, Dries de Klerk, gesê. “Saterdag sal daar nege toeskouerpunte op die 120 km-gedeelte wat in Lydenburg begin en na die Kwena Dam toe gaan, wees terwyl toeskouers die deelnemers twee keer by ‘n verdere nege punte op die 120 km-sirkelroete sal kan sien.”

“Soos met die Sasol-Tydren wat jaarliks duisende toeskouers trek, het ons groot klem daarop gelê om toeskouers van soveel moontlik geleenthede te voorsien vanwaar hulle al die aksie kan beleef.”

Die Toyota-Handelaar 400 begin op Vrydag, 24 Oktober 2003 om 13:00 met ‘n 36 km-voorren rondom die Kwena Dam wat die wegspringposisies vir Saterdag se hoofren sal bepaal. Die voorren begin en eindig by die Badfontein Boeresaal by die Kwena Dam.

Die simboliese begin van die hoofren sal op Saterdag, 25 Oktober om 07:30 van Lydenburg Toyota op die hoek van Voortrekkerstraat en Langestraat wees en die spanne sal dan na die Lydenburg-lughawe beweeg waar die ren om 08:00 behoorlik sal begin.

Original article from Car