Toyota Motorsport waag met die sesde ronde van die SA Veldrenkampioenskap, die Sun City 400, wat oor agt rondes deur Absa aangebied word, geen kanse in die dobbelspel van veldrenne nie.

Dié span, wat ’n vol hand in die een klaskampioenskap het met die dobbelsteentjies wat in hul ander klaskampioenskap in enige rigting gerol word, het verseker dat die twee amptelike Toyota Motorsport-inskrywings op hul beste is.

“Ons het al twee bakkies ná die moordende Tarkastad-byeenkoms geheel en al herbou en ons is daarop uit om geld op die tafel neer te sit en die Nissans aan te vat – in die byeenkoms sowel as in die casino,” het Whammy Haddad, bestuurder van Toyota Motorsport, gesê.

Die Castrol Toyota Land Cruiser-inskrywing van die veelvuldige kampioene Apie Reyneke en Robin Houghton het maar ’n swak hand in die meeste van die seisoen se voorafgaande vyf byeenkomste van die 2003-kampioenskap gekry, met hul tweede posisie in die openingsbyeenkoms van die jaar hul beste vertoning tot nou.

“Sun City is gewoonlik ’n moeilike byeenkoms en met die reënseisoen wat nou begin, kan die weer ’n belangrike rol in die finale uitslag speel,” het Haddad gesê met verwysing na ’n byeenkoms ’n stuk of drie, vier jaar gelede toe net een deelnemers die ren suksesvol voltooi het.

Die feit dat Reyneke/Houghton nou nie meer om die tafel kan sit wat die louere in Klas T betref nie, fokus die span nou op die ontwikkeling van die voertuig vir aanstaande jaar en om die kanse van Mark Cronjé en Chris Birkin in hul Klas E Castrol Hilux te probeer vervolmaak.

Cronjé en Birkin het nie net ’n moontlike vol hand in Klas E met ’n gesonde voorsprong voor die Sugarbelt-wenners Manfred Schröder en Jack Peckham (Ford Ranger) nie, maar selfs ’n kans op ’n Royal Flush afhangende van die laaste kaart wat in die oorblywende twee casino-byeenkomste (dié naweek se Sun City-ren en die Carnival City Casino 400 in November) wat in Oktober deur die nuwe Toyota Handelaars-Mpumalanga 400-veldren geskei word, aan hulle uitgedeel word.

“Die private Toyota-jaers het in Tarkastad ’n goeie lopie in Klas E gehad en ons hoop hulle kan so volhou om nog punte vir Toyota bymekaar te maak. Piet Haasbroek het ’n moeilike seisoen tot dusver in sy Klas D-Castrol Land Cruiser agter die rug, maar hy is vol vertroue dat dinge sal verbeter en dat hy sy Klas D-punteposisie in die Sun City-byeenkoms sal kan versterk,” het Haddad gesê.

Toyota Motorsport het ’n baie suksesvolle veldren-uitstappie in die onlangse Queen Motor Spares Tarka 400, gehad toe Cronjé en Birkin weer op die wenpad was met ’n netjiese Klas E-oorwinning in ’n skitterende vertoning in hul Castrol Hilux 2700i 4x4. Die kombinasie van Cronjé se jeugdige talent agter die stuur en verskeie seisoene se renervaring langs hom met Birkin in die navigatorsitplek, het weer vrugte afgewerp toe hulle ook stof in die oë van die hele Klas D-renveld, wat baie vinniger en kragtiger masjinerie het, geskop het.

“Dit was een van die rofste renne waarin ek nog gejaag het,” het Cronjé gesê. Hy het vanjaar sy veldrenbuiging gemaak en die seisoen begin met wat as ’n ongehoorde klasoorwinning beskou is.

Sedertdien het hy bewys dit was nie net blote geluk nie – ná sy eerste ren en eerste oorwinning, het hy dit opgevolg met ’n tweede in sy klas in die Sugarbelt 400 nadat sy voertuig in die voorren omgeslan het, en toe eerste in sy klas in die Toyota 1000-Woestynren, Cronjé se eerste marathon-byeenkoms tot nog toe. Hulle was ’n teleurstellende 6de in hul klas in die Mafikeng-byeenkoms nadat hulle in die voorren erg verdwaal het.

“Die rolslag in die Sugarbelt-byeenkoms was my fout en deel van my leerkurwe, maar ek het niks te doen gehad met die feit dat ons bykans ’n halfuur in die Mafikeng-byeenkoms verloor het nie – maar nou is ek en Chris gelyk en beplan ons om die res van die jaar nie weer sulke foute te maak nie,” het Cronjé gesê.

Dit lyk asof Cronjé-hulle, wat vanjaar al drie byeenkomste gewen het, met nog drie byeenkomste voor die einde van die seisoen reg is om nuwe inskrywings in die veldren-geskiedenisboeke te laat aanteken…

Original article from Car