Soos by professionele gholf word die Merietevolgorde vir die Toyota 1000-Woestynren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat vanaf 11 tot 13 Junie in Botswana plaasvind, deur 11 jaers en navigators oorheers wat tans aan die kampioenskap deelneem.

Bo-aan die lys is die navigator, Richard Leeke, met ses oorwinnings wat sover as 1984 strek toe hy en Paddy Driver dié byeenkoms in ‘n Mitsubishi Pajero gewen het. Leeke, die veelvuldige tydren- en veldrenkampioen, het sy debuutoorwinning met nóg ‘n sege in 1989 in die Toyota Hilux wat deur Philip Malan bestuur is, opgevolg, met twee oorwinnings later in 1992 en 1993 in die Toyota Hilux wat hy met Kassie Coetzee gedeel het. Leeke moes daarna nege jaar wag om sy volgende sege te behaal toe hy en Hannes Grobler in 2002 in die Nissan Hardbody eerste oor die wenstreep gespoed het – iets wat hulle in 2003 weer herhaal het.

Apie Reyneke, wat uit die veldrenkompetisie getree het, is die jaer wat die hoogste by die Toyota 1000-Woestynren aangedskryf word met ses oorwinning waarvan vier saam met die navigator, Robin Houghton, was wat aan Houghton die tweede posisie besorg. Houghton se eerste oorwinning was in 1995 en weer in 1997, 1998 en 1999 – elke keer in die Castrol-Toyota Land Cruiser. Die moontlikheid dat Houghton sy posisie dié seisoen kan verbeter, is egter skraal aangesien hy nou die leermeester vir die beginner, Gavin Cronje, in die Klas E-Castrol-Toyota Hilux is.

Twee jaers, Hannes Grobler en Neil Woolridge, deel die derde plek.

Grobler het sy eerste oorwinning in 1986 in ‘n Nissan Safari saam met sy navigator, Piet Swanepoel, wat vanjaar die Roetedirekteur van die Toyota 1000-Woestynren sal wees, behaal, en moes daarna 16 jaar wag voordat hy sy volgende sege kon aanteken. Hy en Richard Leeke het agtereenvolgende oorwinnings in 2002 en 2003 in die Nissan Hardbody behaal.

Woolridge het reeds in drie verskillende voertuie gewen. In 1996 het hy en Paul Vermaak in ‘n Nissan Sani gewen terwyl hy en Kenny Skjöldhammer in 2000 met ‘n Mitsubishi Pajero en in 2001 met ‘n Ford Ranger gewen het. Grobler en Leeke en Woolridge en Skjöldhammer is albei spanne wat in Botswana kan wen en dit sal interessant wees om te sien watter spanne hul posisie op die ranglys kan verbeter.

Ses jaers en navigators het elk ‘n oorwinning agter hul name.

Richard Schilling het in 1990 gewen toe hy en Fred Levesque die algehele oorwinning in die Chenowth aangeteken het. Schilling en Ashley Thorn sal in die Klas S-Plastotech-Raceco in aksie wees en staan ‘n buitekans op ‘n oorwinning indien die Klas A-spanne uitval.

Sy aartsmededinger, Buks Carolin, het as ‘n navigator in 1995 gewen toe hy en sy broer, Richard, die Lubrication Equipment-Raceco tot ‘n oorwinning in die Spesiale Voertuigkategorie huis toe gebring het. Carolin het met die Kopanong Hotel Superteam-geledere saamgesmelt en sal in ‘n Klas A-BMW-Raceco vir die res van die seisoen meeding.

Die wenners van die Spesiale Voertuigkatetorie tydens die 2004-Nissan-Sugarbelt 400, Mark Corbett, het die 2000-Toyota 1000-Woestynren in die Century Property Developments-Jimco wat hy met Juan Möhr gedeel het, gewen en hoop dat hy en Gavin Kelsey hul voorsprong in die Spesiale Voertuigafdeling kan vergroot deur in Botswana te wen.

Die laaste toevoeging tot die Merieteranglys is John Weir-Smith en Geoff Minnitt wat van agter voortgestorm het om die Spesiale Voertuigkategorie in die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Jimco in 2003 te wen.

Net tyd en 1 000 km onder strawwe omstandighede in die Absa-Veldrenkampioenskap sal die storie vertel of dié jaers en navigators wat die Merieteranglys gedomineer het, hul posisies kon verbeter deur wéér te wen en of nuwe wenners in die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë by die geledere kan aansluit.

Die Toyota 1000-Woestynren sal oor drie dae plaasvind en begin met ‘n voorren op Vrydag, 11 Junie om 12h00 by Game City. Die spanne sal 35 km in die vinnigste moontlike tyd moet aflê wat die wegspringposisies vir die hoofren sal bepaal.

Die hoofren sal op Saterdag, 12 Junie om 08h00 by Game City in Gaborone begin en die spanne sal vir die sentrale dienspunt by Mantshwabisi mik waarna hulle ná 500 km na die oornagpunt by Botswana Motorsport in Gaborone sal terugkeer. Die eerste voertuig word teen 15h00 terugverwag.

Tydens die laaste dag sal die spanne die roete in die teenoorgestelde rigting volg met die wegspringtyd om 08h00 by Botswana Motorsport in Gaborone. Na ‘n vinnige kuipestop by Mantshwabisi sal die oorblywende spanne nog net 250 km moet aflê voordat hulle die einde by Game City in Gaborone bereik waar die wenner teen 14h00 terugverwag word.

Original article from Car