Die broers, Mark en Gavin Cronje, albei voormalige Rotax Max-Wêreldkampioene, sal die Castrol-Toyota-aanslag in die 2005 Absa Veldrenkampioenskap, wat op 18 en 19 Maart met die Nissan-Sugarbelt 400 in KwaZulu-Natal afskop, aanvoer.

Dié twee aartsteenstanders het ’n suksesvolle oorgang van baanrenne na veldrenne gemaak met Mark Cronje en Chris Birkin wat die Klas E-kampioenskap in 2003 gewen het en tweede in die 2004-Klas D-kampioenskap geëindig het terwyl Gavin Cronje en die vyfmalige navigatorkampioen, Robin Houghton, derde in die 2004-Klas E-kampioenskap in dié restelster se debuutjaar klaargemaak het.

Die broers sal vir die eerste twee byeenkomste met identiese Castrol-Toyota Hilux 2,7i-bakkies in Klas D deelneem en vanaf die Toyota 1000-Woestynren na die nuwe Super Produksieklas (Klas SP) skuif.

“Ek sien daarna uit om kop-aan-kop met my broer mee te ding in ’n seisoen wat opwindend beloof te wees,” het Mark Cronje gesê. “Ons is opposisie in besigheid en in motorsport, maar het baie respek vir mekaar se tegniese kennis en bestuursvermoëns.”

“My eerste jaar in veldrenne was vol gemengde resultate, maar ek was tevrede om vier van die sewe renne waarvoor ons ingeskryf het, te kon voltooi en ’n ongeluk teen ’n hoë snelheid tydens die Lesotho Sun 400 te oorleef terwyl ek my eerste klasoorwinning tydens die Toyota-Handelaars 400 ingepalm het,” het Gavin Cronje gesê. “Om na Klas D op te skuif en in Junie na Klas SP, gaan ’n ware uitdaging wees, maar ek weet dat ek op my broer en Robin Houghton kan staatmaak om my deur die oorgangsfase te help.”

Paolo Piazza-Musso en sy nuwe navigator, Ockie Fourie, sal in Klas D bly en Zane Pearce en sy nuwe navigator, Peter Chadwick, albei van Durban, sal in Klas E bly.

“Ons beskik oor talentvolle bestuurders en navigators in die Castrol-Toyota-span en dit is binne hulle vermoëns om goeie resultate te lewer en om die algehele Produksievoertuigkampioenskap en verskeie klaskampioenskappe vanjaar te wen,” het Toyota se Motorsportbestuurder, Wammy Haddad, gesê. “Die instelling van die nuwe Super Produksieklas beteken dat Toyota weer eens om die algehele louere teen spanne soos Ford en Nissan kan meeding.”

“Ons het ook goeie vooruitsigte vir ’n hele paar privaatspanne insluitende die huidige Klas E-kampioene, Hugo en Jaap de Bruyn; Chris Visser en Japie Badehorst in die Klas E-Tyco-Toyota Hilux 2,7i; pa en seun, Cliff en Louis Weichelt in die Klas D-Bosa/N1 4x4-Toyota Hilux; die egpaar, Marius en Tracey van Vuuren in die Klas E-Bosal/N1 4x4-Toyota Hilux 2,7i en Hein Moolman en Cecil Fincham in die Klas E-4x4 Mega World-Toyota Hilux KZ-TE,” het Haddad bygevoeg.

Original article from Car